Stories Home
Klein-Gert van Ta' San
Of Boys And Gifts
Sandman
Archangel On Holiday
Home
Gideon
Klein-Gert se Vyf Treë
God
GIDEON
Ek weet eintlik nie vir wie ek alles so neerskryf nie, maar as ek dit nie doen nie gaan ek mal word. As jy dalk eendag my storie lees, onthou: Jy mag dit dalk nie glo nie, maar dis die waarheid. Ek weet. Ek was daar.Kom ons begin by die eerste Maandag van September.
Toe ek soos gewoonlik natgesweet by die skool aankom kon ek sommer sien daar was groot beroering. Ek het skaars my fiets vasgesluit, toe's Gawie daar.
"Het jy gehoor?" vra hy uitasem, en gee my nie eers kans om "Wat?" te sê nie. "Van Lindie."
"Wat van Lindie?"
"Sy't selfmoord gepleeg," en hy klink soos 'n koerantverkoper op die Kaapse Vlaktes. So 'n lekkerkry-stemmetjie en ek kry lus en panel-beat hom net daar. "Pa se haelgeweer in die mond gedruk, en kaboem! Brains all over and no more tears."
Miskien moet ek die vent panel-beat, sê ek vir myself. No class. Net lus vir sensasie en skinder.
"Weet jy, Gabriël," sê ek en spoeg op die grond. Hy haat mos sy doopnaam. "Ek kan sien hoekom jy nie vriende het nie." En toe los ek hom daar en loop voor ek onverantwoordelik begin raak.
Maar eintlik wou ek huil. Net daar en dan. Want as daar een meisiekind was vir wie ek lief was, dan was dit Lindie Grabe. Omtrent elke ander seunskind in hierdie dorp ook: Sy was mooi, slim, atleties, en wat nog alles, maar haar hart was reg. Anders as Susan Malherbe het sy nie gedink almal moet buig as sy verbygaan nie. Sy was sommer net een van ons, 'n meisiekind met 'n sagte hartjie wat omgegee het vir almal wat haar pad gekruis het.
So gewild soos Lindie was, so ongewild was haar ouers: Sulke regte Bo-dorp snobs wat te goed was vir almal anders. Pappie was so 'n vaal boepens-nerd met olierige hare, maar hy was bankbestuurder, burgemeester, voorsitter van al wat 'n vereniging was, en hy't ons gewone plebs gehaat. Ek weet–ek was eenmaal by hulle aan huis en ek wil nooit weer naby daai paleis kom nie. Mammie was so 'n statige Mevrou. Sy't so langs haar neus afgekyk en en uit die hoogte gevra: "En waar woon jy, seun? .... O, dis daar anderkant die spoor....", en dit was einde van die gesprek. Maar toe ek daar weg is het Lindie deurgeloop!
Haar pa het haar gereeld te lyf gegaan, maar niemand wou ons glo nie. Nie eers die polisie nie; hulle het ons selfs gedreig met laster. Marius en ek wou hom gaan opfoeter het, maar Lindie het ons gekeer. "Hy gaan dit op my wreek," het sy gesê en haar hand op my voorarm gesit. "Seblief, Gideon, moenie."
Jy sien, ek was baie lief vir haar. En sy vir my. Tussen al die spierpaleise en akademiese reuse het sy iets in my gesien wat almal misgekyk het. En vir my was sy baie meer as 'n goeie catch. Miskien was ons deep down inside eenderse mense.
Maar Pappie en Mammie was anderster soort mense. Hul enigste trofee-dogtertjie kon nie vriende wees met 'n myner se seun nie. Veral nie met Swart-Jan van Blerk se seun nie. Ja, hy's my pa, maar jy sou dit nooit sê nie. Maar wat ek wel moet sê is dat hy baie meer class as Francois Grabe gehad het: Hy't nooit sy meisiekinders of sy vrou te lyf gegaan nie. Ek het goed pak gekry, maar ek is nooit aangerand nie.
Maar los vir Pa eers daar. Anderdag vertel ek dalk van hom.
Lindie se pa was eintlik ons probleem. Hy't haar verbied om met my of enige ander javel uit die Onderdorp uit te gaan. Net die seuns op sy goedgekeurde lys kon naby hulle mansion kom.
En so het ons toe begin om mekaar skelm te sien. Eitlik is skelm 'n misbenaming–almal in ons klas het geweet, maar niemand het gepraat nie. Ek dink die meisies was maar te bly, want Lindie kon maklik hul ouens afgevat het as sy wou, en die manne het te veel respek vir haar gehad om my te verkla.
Dit was maar moeilik, maar ons was lief genoeg vir mekaar om die pyn saam met die lekker te vat. Soms het sy by "goedgekeurde" vriende gaan kuier, en dan het die "goedgekeurde" manne my ook ingesmokkel. Ons was dikwels by dieselfde party's, en terwyl almal gedans het, het ons gesels oor alles onder die son. En na ons belewings by die VCSV se Praise-Bash het ons dikwels sommer gesit en bid.
En nou was dit verby. Ek sou nooit weer haar stem hoor nie. Sy sou nooit weer met haar kop op my skouer lê nie. Handjies-vashou en saam bid was verby. Dit was asof die son vroeg in die more ondergegaan het.
Ek het Goor Gawie daar by die fietsloods laat staan en onder die rugby-pawiljoene gaan huil.
Dindag was almal nog totaal verslae. Niemand kon glo dat "so 'n pragtige, begaafde kind" so-iets sou doen nie. Ek verstaan dat al die belangrike mense tougestaan het om hulle meegevoel te betuig. Meneer Grabe het nie eens gaan werk nie, en die mense het altyd gesê hy's eerder dood as nie by die werk nie.
Woensdag-oggend het Marius en 'n paar manne my by die fietsloods ingewag. Ek wou nog van die fiets afklim, toe slaan hy my af. Tussen die fietse in. Ek is self nie eintlik klein nie, maar teen Marius lyk ek soos 'n mier.
"Jou vark!" skree hy en pluk my op. "Jou eenvoudige tweegesig vark!" En hy slaan my weer tussen die fietse in. Deur die bloed sien ek Johan se voet kom, maar voor ek kan wegrol tref hy my reg op die niere. En toe pluk Etienne en Willem my op en hou my orent.
"Ons dog jy's lief vir haar!" skree Marius en sy vuis kraak in my neus in. "Jy en jou godsdiens. Ons moes geweet het jy wil haar net vang!"
"Wat de hel gaan aan?" kreun ek en spoeg bloed.
"Nou weet hy niks nie," grom Jacques. "Gee hom vir my, Marius."
"Asseblief," smeek ek. "Wat gaan aan?"
"Sy's swanger, meneer Van Blerk. Lindie was swanger. En weet jy hoe raak 'n meisie swanger?" En Giep stoot Marius uit die pad uit. "En toe los jy haar net so." Van iewers af tref 'n vuis my bloeiende neus.
"Ons het nie!" skree ek. "Waar kom julle aan dié storie?"
"By Cecile," sê Giep. "Lindie het haar Vrydagaand gebel en gesê. Maar sy wou nie sê wie's die pa nie."
"En nou's dit my skuld? Ons het 'n belofte aan mekaar en aan God gemaak om te wag tot ons getroud is."
"O ja?" grynslag Johan. "En wie se skuld is dit dan?" En sy vuis eet my rou mond. "Toe! Wie?"
"Wat van jou?" en ek spoeg bloed. "Ek weet van die aand by die Redenaarskompetisie."
Skielik grynslag Johan nie meer nie. En Marius en die ander manne lyk so half onseker.
"Toe!" skree ek en ruk los. "Is hier één meisie in hierdie skool wat kan sê dat ek my ooit wangedra het? Hoekom sal ek dit dan doen met die meisie wat ek liefhet?"
Marius wou nog iets sê, toe stamp ek hom weg, klim op my fiets en vat pad huistoe.
Marius-hulle het gewonder, en die hele skool het gou gefluister, en daarna het die hele dorp gewonder. Maar net twee mense het geweet wat die waarheid was: Die man wat dit gedoen het, en ek.
Twee-en-'n-half maande voor hierdie vreeslike week het ons telefoon een nag kwart oor drie aan die lui gegaan. Gelukkig was ek eerste daar, want dit was Lindie. Sy was histeries, onsamehangend en verskriklik bang. Tussen die trane deur het sy net gefluister: "Kom gou, Gideon. In die kloof." Ek wou nog vrae vra, toe's die foon dood.
Sy't in 'n hopie langs die diep poel gesit toe ek daar opdaag. Verwese, gekneus, met geskeurde klere. Ek het haar net vasgehou tot sy haar uitgehuil het. Woorde was nie nodig nie.
"Wie was dit?" het ek gevra, en toe skud sy haar kop en begin weer huil.
"Jy's veilig," het ek gefluister. "Ek's hier. Praat maar."
En toe sê sy in 'n amper onhoorbare stem: "My pa."
Ek wou hom gaan vermoor, maar sy't my gekeer. Maar daarna het sy verander. Stiller, meer wantrouig. Maar genadiglik kon ek dit hanteer. Ons het meer as ooit tevore saam gebid, en in die proses het ons nog nader aan mekaar gekom.
Maar op hierdie Woensdag-oggend, toe ek vol bloed deur die strate jaag, was sy nie meer daar om te keer nie. Daar was niemand nie. Alles binne-in was dood.
Ek kon nie meer bid nie. Ek wou ook nie. Waar was God laas Saterdagnag? Op verlof? By die bure? Besig met 'n bosberaad met sy engele? Anywhere else behalwe by Lindie. Wat sal Hy nou nog kan doen?
By die huis het ek die ergste bloed afgevee, vir Sanna die dood voor oë gesweer as Pa hiervan hoor, en oor die heining gespring na Mike Nienaber se huis toe. Almal in die buurt het geweet hy smokkel met wapens, maar tot dusver het sy geluk hom nog uit die tronk gehou.
"Mike!" skree ek en pluk sy "werkkamer" se deur oop.
"Wat gaan met jou aan?" skree hy terug. "In watter oorlog was jy?"
"Maak nie saak nie," sê ek. "Ek het 'n haelgeweer nodig. Dubbelloop. En patrone."
"Dit gaan jou kos," sê hy. "Ek dink nie jy't daai soort geld nie."
"Ek het iets wat meer werd is," sê ek arrogant, maar my maag maak sulke draaie. Daar's sulke fluister-stories oor die real Mike Nienaber in omloop.
"Wat nogal?"
"Ek kan stilbly oor wat ek van jou weet." Nou voel ek die sweet in my rug afloop.
Vir 'n lang tyd kyk hy net na my.
"Jy's serious," sê hy uiteindelik. "Ek like dit. Wanneer wil jy die baby hê?"
"So gou as moontlik."
"Vanaand?"
"Fine by me," sê ek en voel die spanning so effens afneem.
"Kom na donker," sê Mike. "En kom alleen."
Net na nege daardie aand sluip ek by Mike se plek in.
"Ek het gewonder of jy gaan bang kry," sê hy en down sy bier.
"Ek?!" snork ek. "Ek het werk om te doen. Waar's die gun?"
"Hier," en hy haal 'n tas agter sy stoel uit. "Jy's gelukkig. Iemand moes hiervan ontslae raak toe die SAPS te warm geraak het. Maar dis die beste. Maar onthou dis 'n shotgun -- kom naby voor jy die sneller trek." Al pratende maak hy die tas oop. "Hoe goed ken jy gewere?"
"Goed genoeg," sê ek.
"Die een sit aanmekaar. So... Oefen 'n paar keer voor jy jou werk gaan doen. En as jy klaar is, dump dit in die poel bo die waterval."
"Wil jy dit nie terughê nie?"
"Is jy mal? Daai ding is hot."
Ek het in die maanlig in die kloof gaan oefen. Die aanmekaar-sit was toe eintlik maklik. Hier teen kwart oor elf was ek tevrede. Ek het die haelgeweer uitmekaar gehaal en in die tas gepak. Ek wou nie heelpad met die ding in my hande loop nie, en daar was mos baie stukke bos in die Bo-dorp.
Die kloof is veronderstel om verlate te wees, maar toe ek omdraai vries ek omtrent van skok. Minder as 10 treë van my af staan 'n figuur onder een van die bome!
"Gaan dit nou die probleem oplos?" vra hy.
"Wat bedoel jy?" probeer ek speel vir tyd. Pleks dat ek nie die gun opgepak het nie!
"Jy weet." 'n Oomblik lank is daar stilte. "Gaan sy terugkom as jy hom skiet?"
"Wat bedoel jy?" Ek probeer arrogant klink, maar ek raak nou lelik bang.
"Lindie. Ek kan verstaan hoe jy voel, maar gaan jou oplossing enigiets verander?"
"Ek gee nie om nie," sê ek. "So 'n vark verdien nie om te lewe nie."
"Wie is jy om te oordeel?" sê die vreemdeling in die skaduwees. "Die wraak kom God toe."
"Wat anders stel jy voor, meneer", vra ek so sarkasties as moontlik.
"Waarvoor het jy en Lindie die laaste ruk gebid?"
"Dis ons besigheid. En wat weet jy van ons gebede?"
"Meer as wat jy dink," sê die man. "Dink jy nie hier kan iets goeds uitkom nie? Dink jy nie God kan sy hart verander nie?"
"Dit sal 'n wonderwerk wees."
"God spesialiseer in wonderwerke. Maar jy is nou 'n stok in sy wiele."
"Hoe weet jy van alles?" Hierdie ou maak my bang.
"Dis my besigheid," sê hy. "Ek is net hier om jou te waarsku voor dit te laat is."
"Gaan jy my nou toesluit?" vra ek. Hy gaan sukkel om dit reg te kry!
"Jy's klaar toegesluit," sê die onbekende man. "Jou haat sal jou vir ewig gevange hou as jy nie nou 'n keuse maak nie."
"Watse keuse?"
"Jy sal weet," sê die man. "Ek gaan nou loop. Dink mooi." En toe draai hy om en begin wegstap.
"Hei!" roep ek agter hom aan.
"Wat?" vra hy en gaan staan.
Skielik weet ek nie wat om te sê of te doen nie. Eintlik is hy reg. Wat gaan nog 'n dood aan sake verander, behalwe om my haat te bevredig. En is dit wat Lindie sou wou gehad het? En God? Kan ek Hom beskuldig? Hy't ons gedra deur die laaste tien weke. Kan ek alles sommer net so weggooi?
Die man draai stadig om en kom staan voor my. Selfs in die flou maanlig voel dit asof sy oë reg deur my kyk. Weird ou, dink ek.
"Gee daai tas vir my," sê hy en hou sy hand uit. "Ek dink nie jy gaan dit nodig hê nie."
"Wat gaan jy daarmee doen?" vra ek, maar gee dit tog vir hom.
"Ek gaan sorg dat dit nie meer hartseer bring nie." En daarmee verdwyn hy tussen die bome.
Die res van die nag lê ek en rondrol. Ek sal weet, het die man in die kloof gesê. Wat? Wat doen jy as die pad ophou en daar's nêrens om heen te gaan nie? Waar hardloop jy heen?
"Na God toe," sê 'n stemmetjie iewers in my, maar ek skop teë. God moes mos gesien het dié ding kom, maar Hy't niks gedoen nie. En ek stry en ek rol rond en ek slaan my kussing en eindelik kniel ek in die donker voor my bed.
Die woorde wil nie mooi kom nie, maar gelukkig verstaan Hy sonder woorde ook, en mettertyd kom daar so 'n groot vrede in my lê. Die woede van vroeër kalmeer en ek onthou die VCSV-dominee se woorde by laas kwartaal se kamp: "God het ons 'n vrye wil gegee. Kan ons Hom verantwoordelik hou vir wat ons daarmee doen? Wil ons regtig net robotte wees?" En daardie kamp-Sondag voor huistoe-gaan het Lindie nog opgestaan en gesê: "Daar's baie dinge wat ek nie verstaan nie, maar ek glo God het alles onder beheer, wat ookal gebeur." As sy dit toé kon glo, kan ek seker nou ook. Hy sal sorg vir die toekoms. Hy't sels 'n onbekende man gestuur om my tot besinning te bring. Hy sal die pad wys.
Verbasend genoeg kry ek dit reg om twee ure te slaap, maar vyfuur die oggend skrik ek wakker, en ek wéét wat om te doen.
'n Halfuur later klop ek aan die Grabes se voordeur, en Lindie se pa maak amper dadelik oop. Lyk nie of hy geslaap het nie: Kringe onder die oë, stoppelbaard, dagoud klere.
"Ja, wat soek jy?" Nors, ja, maar anders ook; amper asof hy lewensmoeg is.
"Mag ek inkom, meneer?" Ek verstom my aan myself. Ek voel soos 'n man with a mission, en niemand gaan my stop nie.
Hy maak die deur wyer oop. "Kom in." Hy kyk skielik meer intens na my. "Was jy nie al hier nie?"
"Ek was, maar u wou my nie weer hier hê nie." Ek het gedink die woorde sou drup van haat, maar iets is aan't gebeur met my.
"Die storie van my lewe," sê hy.
"Hoe bedoel u?"
"Net mense wat vir my van waarde kon wees was welkom in hierdie huis. En nou maak niks meer saak nie."
Skielik begin ek hom jammer kry.
"Wat maak jy hier, seun?"
"Ek wou net kom sê...." en my moed begewe my.
Hy kyk na my met rooi oë. "Jy wou kom sê...?"
"Ek weet," hoor ek myself sê. "Alles wat u met Lindie gedoen het."
"Alles?" vra hy en word bleek.
"Alles, meneer. Ook van daardie nag."
Dis asof iemand hom met die vuis slaan. Sy oë staar wit en sy hele lyf vou inmekaar.
Sy stem is so sag dat ek dit skaars kan hoor. "Wat gaan jy nou doen?"
"Niks nie, meneer," en ek staan op. "Niks nie. U sal vir ewig daarmee moet saamleef. Maar ek wil vir u twee dinge sê. Eerstens, daar is vergifnis by God as u met regte berou na Hom toe gaan. En tweedens, dinge het uiteindelik te veel geword vir Lindie, maar sy het u vergewe vir wat u aan haar gedoen het."
"Hoe weet jy?" fluister hy.
"Sy het my so gesê. Ons het saam daaroor gebid ook."
Hy bly lank stil en toe sê hy saggies: "So julle het mekaar tog maar bly sien?"
"Ja, meneer."
"Ek is bly daar was iemand wat by my dogter gestaan het. Laat my nou met rus."
Lindie is daardie Vrydag-oggend begrawe. Ons was almal daar met ons rooi oë, en agterna is ons uitgenooi om by die kerksaal te gaan teedrink. Marius het selfs twee klein koeksistertjies gekry. So skoorvoetend het hy my een aangebied.
"Ek's jammer oor Woensdag," het hy verleë gesê. "Ons was net so geskok en toe dink ons nie verder nie....Ek's jammer."
"Dis orraait," het ek gesê. "Almal maak foute."
"Hoe voel jou gesig?"
"Het al beter gevoel." Eintlik was dit 'n understatement, maar toemaar.
En die Grabes? Ek weet nie, maar iets het verander. Meneer Grabe is nog bankbestuurder, maar hy't alles anders bedank. Hy werk ook nie meer laat saam met sy sekretaresse nie. Mevrou Grabe het 'n voedingskema in die township begin–sy raak selfs erg vuil in die proses!
En hulle gaan kerk toe. Nie Bo-dorp se blink kerk nie–hulle kom hier na ons nederige gebou toe. Hulle gesels met ons asof ons hulle bure is. Hulle is altyd by die bidure en ander byeenkomste: Die bankbestuurder skuif stoele reg en sy vrou was teekoppies. En baie van die swaarkry-mense kry soms via dominee 'n koevertjie van 'n "onbekende weldoener" af.
Gister het ek en meneer Grabe so half in mekaar vasgeloop in die gents. Ek wou nog iets sê, toe raak sy oë so mistig en hy druk my skouer en hy sê: "Dankie, Gideon. Baie dankie."
© 2003 Flip van der Merwe. All rights reserved. This story may not be reproduced, stored or distributed, in part or in whole, in any manner whatsoever, without the express written permission of the author, or his legally contracted agent(s). For more information, write to info@ccm.co.za.