KLEIN-GERT VAN TA' SAN


Klein-Gert van Ta' San het toe mos sy motorfiets afgeskryf. Homself ook. Dokter sê helfte van sy brein lê iewers duskant Waterval in 'n mielieland. Die res van hom lê hier in Intensief–vol pypies en naalde en allerhande aangeplakte goedjies, so half weggesteek tussen al die masjiene en affêrings. Dis al wat hom nog aan die lewe hou...die masjiene nou, bedoel ek.
 
Ek dink Klein-Gert is lankal dood; al wat hier lê is die flenter liggaam van Ta' San se wilde seun. Maar Ta' San wil nie die masjiene laat afskakel nie. Al praat Dokter en die Perfesser nou van "onomkeerbare breinskade", en al praat Dominee so mooi van aanvaarding, hoop sy steeds op 'n wonderwerk.
 
Want sien, na sy pa se ontydige dood in die jagveld het Ta' San vrou-alleen vir Klein-Gert grootgemaak. Sy weet: As Klein-gert nou daar by die Poorte moet aankom, is daar net een sekerheid vir hom. En dis nie die engelkore nie.
 
Klein-Gert het mos hierdie ding met die Kerk gehad; hoekom weet niemand nie. "Dominees is parasiete," het hy dikwels gesê. "En 'n diaken is 'n bloedsuier." Dit was nou voor Ta' San diaken geword het. Na dit het hy nie meer die stukkie van die diaken bygesê nie, maar jy't nie met Klein-Gert kerksake gesels nie. Behalwe as jy wou baklei.
 
Nou nie dat Klein-Gert so sleg was nie–eintlik was hy 'n goeie kêrel, so op sy eie manier. Hy was nie die beste bakleier in die dorp nie, hy't nie die ou tannies geteroriseer soos Bietjie-Piet van oom Sarel Kromsteel die gewoonte gehad het nie, en hy't ook nie 'n rekord by sersant Pens Plessie of die landdroshof of die tronk gehad nie. So erg was hy darem nie–dis net dat hy 'n paar minder aanvaarbare gewoontes gehad het.
 
Maar laat ons die storie by sy begin gaan haal.
 
Klein-Gert is so twee en twintig jaar gelede gebore in die middel van die ergste storm wat die wêreld hier agter die berg nog gesien het. En toe gaan staan en noem hulle die kind Gerhardus Mattewis Lodewyk Magiel–'n slegte begin as daar al ooit een was. Oupa Gerhardus Mattewis het mos die tydelike met die ewige verwissel toe sy perd op loop gegaan en oor die krans gefoeter het. En oupa Lodewyk Magiel het koebaai gese toe sy buurman hom met die se vrou in die skuur betrap het–sonder klere, en so aan, sien.
 
Klein-Gert was heelwat kleiner van postuur as sy twee voorsate, maar hulle bloed het dik in sy are gepomp. Spoed en vroumense. En dis ook net hier waar sy probleme en moleste begin het: spoed en vroumense. Klein-Gert het volgehou dat hy 'n gebalanseerde lewe gelei het: vinnige rygoed en vuurwarm verhoudings. Meer as dit kon sy begroting nou ook nie eintlik hanteer nie. Veral vandat die Munisipaliteit daardie radargatsometer gekry het!
 
Die vinnige rygoed was meer as net 'n liefde; soms was dit lewensnoodsaaklik vir Klein-Gert se oorlewing. Soos die aand toe Susan Nel se man toe nié oortyd gewerk het nie–hulle sê Klein-Gert se bike het sy voorwiel eers 'n myl van die Nels se huis af neergesit. Dis waar Jan Nel se ammunisie opgeraak het, sien. Klein-Gert se jeans met die stukkende kniëe hang steeds op die Nels se voorstoep, en Santjie ontvang geen besoekers as Jan nie daar is nie. En ja, haar kakebeen hét so effens skeef aangegroei.
 
" Gun die man sy plesiertjies ", het oom Chris van die stasie gesê, maar hy't nie baie ondersteuners gehad nie. After all, hy was 'n oujongkêrel, en al die ander manne het vrouens of dogters of susters gehad om te beskerm. Klein-Gert was nou eenmaal net té begeerlik vir die rooibloedvrouens van dié kontrei.
 
Ewenwel, noodgedwonge het Klein-Gert toe naderhand die buurdorpe begin besoek. Dis toe ook waar hy vir Victor en Vanessa Roberts ontmoet het–eers vir Vanessa, en toe het Victor die tweetjies saam in een bed betrap. Waarskynlik was dit 'n "set-up" , maar Klein-Gert had net één manier om te voorkom dat Ta' San weer sou moes begrafnis hou, en dit was om deel te word van Victor se "scheme". Wat die "scheme" presies behels het, het Klein-Gert nooit kon uitvind nie–hy moes net pakkies van hier na daar vervoer. Ja, hy het probeer oopmaak, maar die goed was in sulke verseëlde blikkies verpak; en daar was nie 'n sleutel by nie. Maar dit het Klein-Gert nou nie juis gepla nie, want die geld was goed ... en boonop belastingvry.
 
Ongelukkig het sersant Pens Plessie snuf in die neus begin kry. Hier geluister, daar gepraat, gekyk, en 'n paar maal Hoofkantoor toe gebel. En laas Vrydagaand wag hulle toe vir Klein-Gert in by Sarel-se-drif.
 
Maar die poeliesmanne van die stad het nie geweet wat Klein-Gert alles met 'n motorfiets kon doen nie, en so het die groot jaagtog begin. Hoeveel poeliesmanne betrokke was, wil niemand sê nie, maar al die kroeks in Johannesburg en Pretoria kon daardie aand doen net wat hulle wil. Nie dat die stadsjapies baie reggekry het nie–Klein-Gert het die pad gery asof hy hom self gemaak het; en waar daar nie pad was nie, het hy een gemaak: oor drade, deur slote, selfs deur die rivier.
 
Hier duskant Bapsfontein het die manne in blou toe moed verloor en omgedraai. Klein-Gert het gelag en begin wonder waar hy die res van die nag sou deurbring. En dis toe dat die Brahmaan-bul doen wat die polisie nie kon regkry nie: hy't Klein-Gert se rooi bike net daar tot stilstand gebring. Klein-Gert? Nee, hy't daar iewers in die mielieland tot rus gekom.
 
Nou lê hy hier in Intensief. Baie stil. Baie stukkend. Baie na aan begrafnis.
 
En Ta' San is maar gedurig hier. Loop op en af met dik rooi-gehuilde oë, toutjieshare, verkreukelde rok. Sy bid. Sy huil. En dan bid sy weer. Sy weier volstrek om die masjiene te laat afskakel. Lyk amper asof sy vir haar Klein-Gert probeer boete doen; so asof sy hoop om God tot ander insigte te bring.
 
Maar sy weet ...
 
Net laasweek nog het sy so mooi met Klein-Gert gepraat. Hom probeer oortuig om sy lewe reg te kry, om ter wille van haar en sy oorle' pa weer kerk toe te kom. Sy antwoord was kras en duidelik: "Ek het God nie nodig nie, Ma. Ek kan self manage. En as God my nodig het, is Hy maar redelik useless." Toe klim hy op sy bike, wheelie, en laat waai die vertes in.
 
Baie mense het Klein-Gert probeer keer, veral nadat die jong Domineetjie hier aangekom en so vuriglik oor bekering begin preek het. Baie het vir hom gebid. Klein Jannie Botes het selfs in die proses twee tande verloor. En verlede November, net toe almal begin glo dis tevergeefs, verras Klein-Gert almal en kom op Ta' San se verjaardag saam met haar kerk toe.
 
Dominee het sy reeks oor Habakuk net daar gelos en oor bekering gepreek soos nog nooit nie. Selfs 'n uitnodiging gemaak. En toe snuif Klein-Gert daar agter in die hoek en staan op. So skuif-skuif is hy uit die bank uit en halfpad met die gangetjie af kansel toe. Trane op sy wange–régte trane, broertjie, trane!
 
Toe steek hy skielik vas en kyk lank na Dominee; so asof hy met homself argumenteer. Oom Gertjie het begin bid daar in die ouderlingebank, en Ta' Marie en Jannie Botes en die klomp van die Jeugvereniging ook. Klein-Gert was so naby. Maar toe hy opkyk was daardie verkeerde vuur terug in sy oë. Hy't Dominee spottend gesalueer, omgedraai, en rustig uit die kerk uitgestap.
 
Nou lê hy hier tussen Intensief se pype en naalde en masjiene. Ek dink nie hy leef rêrig meer nie; net sy flenter-lyf is nog hier. Een of ander tyd sal Ta' San dit maar moet aanvaar en die masjiene laat afskakel.
 
Klein-Gert het sy kans gehad. Hy't nee gesê vir die hemel, en dan lyk dit my het 'n man net een ander plek oor.
 
Laas November was Klein-Gert se laaste kans. Nou wonder ek maar net: is vandag nie dalk jou laaste kans nie?
 

© 2003 Flip van der Merwe. All rights reserved. This story may not be reproduced, stored or distributed, in part or in whole, in any manner whatsoever, without the express written permission of the author, or his legally contracted agent(s). For more information, write to info@ccm.co.za.