Stories Home
Klein-Gert van Ta' San
Of Boys And Gifts
Sandman
Archangel On Holiday
Home
Gideon
Klein-Gert se Vyf Treë
God
KLEIN-GERT SE VYF TREË
Die ding met Klein-Gert was dat hy nie geweet het wanneer om moed op te gee nie. Ek dink nie hy't geweet 'n mens kan so iets doen nie.
Ek het mos laas vertel van Klein-Gert, en hoe sy sekskapades hom in Victor Roberts se dwelmsmokkel-netwerk laat vasval het. Onthou? Een nag het die polisie hom mos by die drif ingewag, en toe hy jaag skoon onder hulle uit met daai woeste rooi bike van hom. Tot 'n Brahmaan-bul op 'n nagtelike wandeling die bike in sy spore stop en Klein-Gert voortvlieg tot in die mielieland.
Niemand het gedink Klein-Gert gaan bly leef nie. En meeste van ons het maar heimlik gehoop hy maak dit nie–daar het te veel van sy brein in die mielieland agtergebly.
Maar Ta' San wou nie kopgee nie. Ten spyte van alles wat die dokter gesê het, en ten spyte van Dominee se mooi woorde, het sy botweg geweier om die masjiene te laat afskakel. Sy het Klein-Gert geken: Met sy soort lewe het hy net een ewige bestemming voor hom gehad, en sy wou so graag vir hom 'n tweede kans uit die Voorsienigheid uitwurg. Sy het gebid en gesmeek en gehuil, maar na twee weke het sy ingegee en die papiere geteken.
Net daar het Klein-Gert se dwars streep toe uitgekom. Sy hart het bly klop. En toe hulle sy ventilator afskakel en die pyp uit sy keel trek, het hy al roggelende bly asemhaal. Die volgende dag was die roggel weg, maar hy het nog so stil soos die dood tussen die lakens gelê. Die derde dag het hy sy oë oopgemaak.
Ta' San was daar, soos altyd. Sy't sy hand vasgehou en so met haar kop op sy bed se kant gelê en bid, en toe sy opkyk het sy in sy vervaarde oë vasgekyk. Hulle was so groot soos pierings, spierwit, beangs.
"Ma!" het hy geprewel. "Ma!"
Ta' San het amper flougeval, maar soos sy later gesê het: "Die genade was baie groot."
"Ma is hier, boetie," het sy gesê en opgespring. "Waar's die dokter?"
Klein-Gert het soos 'n neet aan haar hand geklou en geluide gemaak. Verbouereerd het Ta' San afgebuk en haar oor by sy mond gehou.
"Kry 'n dominee, Ma," het hy gefluister. "'n Dominee, Ma." En toe verslap sy hand, maar sy oë het so beangs bly staar.
Ta' San is soos die weerlig daar uit, en toe die dokters en nursies so koek om Klein-Gert se bed het sy vir Dominee gaan bel.
Dominee het 'n woord gesê wat predikante nie behoort te ken nie, en iets gemompel van 'n "allamagtige wonderwerk." Toe los hy die skoolraadsvergadering net so onafgehandel en jaag stad toe. Later het hy vertel dat hy nog nooit in sy lewe gebid het soos daardie nag nie.
Ta' San was in 'n vreeslike toestand toe Dominee daar instap. Klein-Gert het net heeltyd gevra vir 'n dominee, en verder kon sy niks uit hom uitkry nie. Maar hy was bang. Doodsbenoud. Soos 'n gewonde bok wat wag vir die doodskoot.
Dominee wou nog mooi praatjies maak, toe het Klein-Gert sy hand beet, en hy druk die hand dat Dominee trane in sy oë kry. Nou nie eintlik wat mens verwag van 'n knaap wat afgeskryf was nie!
"Ek wil nie terug nie," het hy gehyg. "Help my, Dominee!"
Dominee het kopgehou, 'n bankie met sy voet nadergehaak, en met sy kop digby Klein-Gert s'n gaan sit. "Waarheen wil jy nie terug nie?" het hy kalmpies gevra. Oulike Domineetjie dié van ons–jonk, maar rustig en vol vrede.
"Die Poorte." Klein-Gert se stem was 'n fluistering, maar sy oë was wild en vreesbevange. "Die Poorte.... Ek was daar, Dominee. Ek wil nie terug nie."
Dominee het later vertel daar het so 'n koue rilling teen sy rug afgehardloop, maar hy't kopgehou. "Vertel my wat het gebeur, Klein-Gert."
"Twee poorte, Dominee. Een vol lig en een so donker.... Dit wou my insuig, Dominee! Insuig! Ek het orals probeer vasklou, maar dit was te sterk. Ek het geskree en geroep, maar niemand het kom help nie. Ek was te bang om God te roep, want Dominee weet mos hoe my lewe was. Dominee, ek het aan die rotse probeer vashou, maar die donker poort het my nadergesleep...."
Dominee het met geboë hoof sit en wag terwyl Klein-Gert asem skep.
"Net voor ek in daardie donkerte in is, Dominee... toe skree ek soos 'n dier, Dominee... Ek het gehoor wat gaan daar binne aan... Geen mens kan dit beskryf nie, dis te verskriklik. Toe skree ek, Dominee, ek skree tot God vir genade... maar daar's niks nie! En my vingers gly en ek val, Dominee... En toe maak ek my oë hier langs Ma oop. Help my, Dominee. In Godsnaam, help my. Ek voel nog steeds daai poort suig... Dominee, ek is bang! Verskriklik bang! Ek wil nie terug nie!"
Dominee het sy hand versigtig op Klein-Gert se flenter-kop neergesit.
"Jy hoef nie terug te gaan nie, Klein-Gert," het hy stilweg gesê. "So lief het God die wêreld gehad dat Hy sy Enigste seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê."
"Ek ook, Dominee?" het Klein-Gert met 'n bewende stem gevra. Die trane het oor sy wange gestroom. "Ek het Hom gespot, Dominee. Ek het Hom gevloek. Ek het kerkmense gehaat. En al die ander goed.... Hoe kan daar nog vir my kans wees?"
"Is die feit dat jy nog lewe nie 'n bewys dat God jou nog 'n kans gee nie?" het Dominee saggies gevra.
"Seker..." het Klein-Gert geprewel. "Dis net... ek weet nie so mooi van hierdie dinge nie, Dominee. En as ek God was het Klein-Gert nie meer een enkele kans gekry nie."
"Dank God dat jy nie God is nie," het Dominee met oorgawe gesê. En toe begin hy van voor af, en hy vertel vir Klein-Gert die hele reddingsverhaal. Van Adam en Eva af, deur al die groot tekste in Romeine, tot by Openbaring se klop aan die deur. Klein-Gert se trane het al vinniger gevloei, totdat dit gelyk het soos die Oranje in vloed. Altans, dis wat Ta' San gesê het.
En toe Dominee klaar gepraat het, toe's Klein-Gert reg vir besigheid doen met God. Dominee het voorgebid, en Klein-Gert het agterna geprewel. Ta' San het natuurlik geloer, en so deur die gebed het sy gesien hoe Klein-Gert se lyf stadig maar seker begin ontspan en die vrede van God deurbreek op sy stukkende gesig. Toe loop sy maar uit en gaan huil buite so 'n versie van dankbaarheid.
Dominee het nog so 'n paar minute daar gebly en 'n paar woorde gesê–soos predikante maar doen– en toe maar gegroet om huis toe te gaan. Maar hy't net tot by die deur gekom, toe draai hy om met so 'n snaakse uitdrukking op sy gesig, byna asof hy binnekant erg aan die worstel was. Hy't stil by Klein-Gert se bed kom staan en lank na hom gekyk.
Klein-Gert het vraend aangekyk. "Dominee?"
"Ek het nog nooit so-iets gedoen nie," het Dominee aarselend gesê. "Maar ek dink God wil vir jou iets sê, Klein-Gert." Hy't vir 'n oomblik na woorde gesoek. "Jy't 'n tweede kans gekry. Moet dit nie verspil nie. Daar's werk om te doen."
"Hoe nou, Dominee?" Ta' San sê Klein-Gert het kompleet gelyk soos daardie eerste dag in Juffrou Kleingeld se Graad Een klas–nuuskierig en verward en bang, alles tegelyk.
"Ek weet nie," het Dominee verleë gesê. "Ek weet nie. Miskien kom die wysheid later, maar jy moet nou rus. Ek sal weer kom." En toe loop hy kopskuddend uit.
Buite in die motor het Dominee met sy kop op die stuurwiel gaan lê. "Ek raak nou wragtag Apostolie," het hy gebrom. "Alles Klein-Gert se skuld." Maar hy't geglimlag. Hy was nou wel nie by die poorte nie, maar hy was vanaand baie ná aan sy God. Miskien nader as ooit tevore.
As Klein-Gert se wakkerword 'n wonderwerk was, dan was sy herstel, in Dominee se woorde, 'n "allamagtige wonderwerk".
Moenie 'n fout maak nie, Klein-Gert was ver van reg af. Ek dink dis net die vrees vir "die Poorte" wat hom daardie aand wakker gekry het. Toe die slag om sy siel eers gelewer was, het Klein-Gert geslaap en geslaap en geslaap. So slaap-slaap het hulle hom teater toe karwei om sy bene te probeer regkry (sonder sukses), sy wonde versorg en sy drips omgeruil.
Eers omtrent 'n week later het Klein-Gert weer bewus geraak van die wêreld rondom hom. Eerste ding wat hy gesoek het, was water. Toe kos. En toe 'n Bybel. Ta' San was buite haarself van blydskap.
En Klein-Gert was anders. Baie anders. Die woestheid in sy oë was weg. Hy't die nursies met respekte behandel, nie soos laas met sy blindederm-storie nie. Hy't nie meer gevloek nie, behalwe een keer toe hulle aan sy bene gevroetel het, en toe't hy agterna askies gesê. En hy't Bybel gelees. Voor begin, gelees tot agter, weer voor begin, en Dominee elke week tydens die pastorale besoektyd gepeper met vrae. Dominee moes naderhand noodgedwonge Calvyn se Institusies gaan afstof en begin opleeswerk doen. Maar hy't nie omgegee nie.
Klein-Gert se lyf het amper vinniger as sy siel rigting gekry. Behalwe vir sy bene het hy wonderbaarlik vinnig herstel. Wonde het sonder enige probleme vinnig genees. En al het party littekens maar erg gelyk, was alles darem weer byeen onder 'n vel. Tot almal se verbasing het hy geen breinskade gehad nie, behalwe dat hy so 'n paar dinge glad nie kon onthou nie–soos sy matriekjaar, maar party mense het gesê die nuwe Klein-Gert was te skaam om dit te onthou.
Maar die bene was 'n ander storie. Die dokters het gelas en geplak en plate ingesit en alles vasgeskroef, en uiteindelik was alles so min of meer aanmekaar. Maar Klein-Gert sou nooit weer loop nie. Ook nie bike ry nie.
Ta' San was erg bevrees vir Klein-Gert se reaksie op hierdie nuus. Ek meen, dis een ding om Bybel te lees en jou te gedra, maar nooit weer loop nie? Dis rof! Veral vir 'n ou soos Klein-Gert vir wie die buitelewe en die wind in sy hare so belangrik was.
Maar, soos oom Sarel Kromsteel later gesê het, Klein-Gert se bekering was die ware Jakob. Teen hierdie tyd was sy Bybellees al verby Job se ellendes, en toe die dokter hom die sware nuus kom meedeel, toe haal Klein-Gert foutloos aan: "Die Here het gegee, en die Here het geneem; geloofd sy die Naam van die Here." Hy't so opgekyk na Ta' San, met trane wat oor sy wange loop, en so saggies gesê: "Hy't my siel gered, Ma, en dis meer werd as twee bene." En toe huil Ta' San ook, want toe weet sy Klein-Gert is regtig nie meer die ou satanskind van voorheen nie.
Geloof ofte nie, Klein-Gert het bloedgesweet in daardie hospitaal. Pyn het hy in oorvloed gehad. En so gou hulle kon het die fisioterapeute hom onder hande geneem. Eers net sy ledemate vir hom beweeg, maar spoedig moes hy uithaal en wys. Hy sou nie weer loop nie, maar dit het nie beteken dat hy soos 'n invalide sou lyk nie. Toe hy die dag huistoe kom, het sy bolyf gelyk soos Klein-Gert van ouds–amper te veel vir sy hemp. En onder die broekspype kon mens mooi kuite sien.
Ja-nee, Klein-Gert was weer Klein-Gert. In 'n rolstoel.
Klein-Gert was skaars terug by die huis, toe't die stroom kuiermense begin. Party het net kom kyk hoe lyk 'n wonderwerk, want Dominee het hartstogtelik gepreek oor sy wonderbaarlike herstel en die groot genade.
Sersant Pens Plessie het ook kom kyk, maar eintlik het hy kom besigheid doen, want na daardie woeste donkermaan jaagtog het hy en Klein-Gert 'n paar dinge vir mekaar te sê gehad. Eintlik, tot die Sersant se groot verbasing, het Klein-Gert die meeste te sê gehad. 'n Volledige verklaring, met name, plekke, datums, ... Dit het soos 'n spy-storie geklink, sê hulle.
Sersant Plessie het nie teruggegaan stasie toe nie. Hy't ge-radio en toe's hy reguit buurdorp toe. Voor Victor Roberts nog eers weet Klein-Gert is terug by die huis, toe sluit die manne in blou hom en sy liewe ou vroutjie toe. En voor die son die volgende oggend opkom sluit die stad se manne 'n hele sindikaat toe.
Klein-Gert was staatsgetuie, en danksy hom is die hele gang vir 'n lang tyd weggebêre. Hy was 'n held, want dit was een van die grootste busts in die geskiedenis, maar Klein-Gert het nie van die verering gehou nie. Hy't maar te goed geweet dat hy daardie tyd hart en siel deel was van die scheme, en dit het hom soveel gepla dat hy vir Victor in die tronk gaan besoek het. Nie dat dié na Klein-Gert geluister het nie–maar, soos Klein-Gert gesê het, hy het probeer. En sover ek weet het hy lank vir Victor en Vanessa en hulle trawante gebid.
Maar as 'n man geleef het soos Klein-Gert en jy kom op die regte pad, dan was daar meer as net polisiesake om reg te maak. Skaars mondig soos hy was, het Klein-Gert heelwat besigheid gehad om af te handel.
Soos met Jan Nel. Na Klein-Gert se intieme huisbesoeke in Jan se afwesigheid was dinge maar baie stram tussen hulle. Jan wou nou wel nie meer skiet nie, maar sy vuiste het nog altyd gejeuk vir Klein-Gert se gesig. En Klein-Gert het nie van dié storie vergeet nie. Hy't al in die hospitaal daaroor lê en tob, want Susan was die eerste getroude vrou in wie se kooi hy hom ingewikkel het. ( Vanessa Roberts was die tweede, en daardie eskapade was die aanloop tot sy lang hospitaal-verblyf.) Maar Susan het by Klein-Gert gespook. Miskien omdat Jan al sy woede op haar uitgehaal het toe Klein-Gert destyds net betyds voor hom weggekom het.
Ewenwel, die dag na sy terugkeer, hier skemertyd, toe sien ons Klein-Gert se rolstoel in die straat afsukkel. Tot by die Nel's se huis. Op in die driveway, en toe sit Klein-Gert in die verleentheid, want daar was so 'n baksteenhoog trappie waaroor hy nie kon kom nie. Maar Jan Nel het hom sien kom. Hy't so van die stoep af na Klein-Gert gekyk, en toe stap hy in die huis in. En toe kom hy weer uit, met sy haelgeweer in sy hand.
Ons het so deur die gordyne geloer, hoogs benoud. Jan Nel het met die geweer so in Klein-Gert se gesig beduie, en gepraat dat die spoeg spat. Toe praat Klein-Gert en Jan se geweer sak stadig al hoe laer. Nie te lank nie, toe sit hy die geweer neer, en sleep so sukkel-sukkel Klein-Gert se rolstoel in die huis in.
Nee, ek weet nie wat daar binne gebeur het nie. Klein-Gert is eers lank na donker daar uit, en Jan het saamgestap tot by Ta' San se voordeur. Die volgende Sondag was die Nels na baie jare weer in die kerk. Jan se weerbarstige kuif het nog steeds penorent gestaan, en Susan se nuwe haai-polvaais het die lewe uit haar uitgedruk, maar hulle het aan Dominee se lippe gehang. En toe hulle uitloop het hulle handjies vasgehou, amper soos jare gelede voor die moes-troue.
Dit was gou-gou duidelik dat Klein-Gert van plan was om op te maak vir sy woeste verlede. Soos hy vir Bietjie-Piet gesê het: "Ek kan die Here nie impress nie. Dis net sy genade wat my siel gered het. Maar ek wil nie eendag in die hemel spyt wees oor my verlede nie. Ek moet regmaak."
En toe maak hy reg. Hier bely, daar om vergifnis gevra, en in die proses 'n hele paar trane gestort. Dis reg, ja; Ta' San se rowwe seun kon nou glad huil ook!
Die groot regmaak het gekom met die mense van die lokasie. Ja, ek weet lokasie is deesdae 'n lelike woord, maar in Klein-Gert se tyd was dit waar jy gebly het as jy nie wit van vel was nie–en Klein-Gert het "lokasie" toentertyd al soos 'n baie lelike woord laat klink. Wat hy die mense genoem het wat daar gewoon het, herhaal mens nie. Nie eers as jy vinger-alleen is nie.
Al lokasie-mens wat hy so soort van verdra het, was Groot-Saar. In naam was sy Ta' San se bediende (nog 'n lelike woord, ja), maar in werklikheid was hulle eerder soos susters. Na Klein-Gert se Pa en Groot-Saar se man saam-saam in die jagveld die ewigheid in is, het hulle maar op mekaar staatgemaak vir ondersteuning–veral toe die stories begin loop het oor wat regtig daardie dag sou gebeur het.
Ta' San en Groot-Saar het gevind gedeelde smart is halwe smart. Hulle het saam gehuil, saam gekla en kwaadgeword oor die skinderstories, saam gebid. Ta' San het nou wel Dorpskerk toe gegaan en Groot-Saar Sendingkerk toe, maar in die geloof was hulle een. En na daardie woeste oorveeg van Ta' San het Klein-Gert nooit weer iets oor dié twee vroue gesê nie. Ook nooit verduidelik waar sy blou-oog vandaan gekom het nie.
Ewenwel, Groot-Saar het so sku-sku kom groet en haar vasgeloop in die nuwe Klein-Gert. Vriendelik, belangstellend, ... en eg. Sy kon haar oë nie glo nie, en haar ore nog minder. Sy't begin praat in die lokasie, en hulle kon ook nie hul ore glo nie. Klein-Gert is nie meer onderlangs aangegluur nie, en die mense het selfs begin om hom terug te groet.
Eerwaarde Solomons het ook gehoor van Klein-Gert se ommeswaai, en hom genooi om die Sendingkerk te besoek. Sondagoggend was die kerkie so vol soos nog nooit. Meeste mense het uit nuuskierigheid gekom, want Klein-Gert was die eerste besoeker ooit van anderkant die spoor af. Klein-Gert het begin vertel van sy lewe, en onder groot gelag het iemand telkens sy stories luidkeels beaam. Toe begin vertel hy van sy ervaring by "die Poorte", en dinge raak stil. Trane het begin loop, en toe Klein-Gert vergifnis vra vir sy haatdraendheid deur die jare, was dit asof iets uit die hemel neerdaal op daardie kerk.
Een ding het tot 'n ander gelei, en spoedig was Klein-Gert 'n gereelde besoeker anderkant die spoor. Hy't selfs begin om so uit sy rolstoel die skool se krieketspan af te rig, maar dis anderdag se storie.
En toe gebeur daar 'n ding.
Klein-Gert kon baie dinge vir homself doen, maar nie alles nie. En Ta' San kon ook nie met alles help nie. Sy wou baie van haar aktiwiteite laat staan om meer voltyds na Klein-Gert om te sien, maar hy het volstrek geweier.
"Ma het genoeg vir my gedoen," het hy gesê toe sy die saak aanroer. "Hou aan met bid, maar moenie Ma se goed laat staan ter wille van my nie. Ons kan eerder 'n ander plan maak. Ma weet mos geld is nie 'n probleem nie."
(Dis waar, geld was nie 'n probleem nie, nogal danksy Klein-Gert se verlede. Toe Victor Roberts destyds vir Klein-Gert ingesuig het, het hy hom goed gemelk. Sien, Victor het hom nie soos 'n krimineel gedra nie: Amptelik was hy 'n versekeringsmakelaar, gerespekteer in die gemeenskap, en Klein-Gert moes uithaal en belê in reusagtige polisse met allerhande soorte van voordele. Ook maar goed. Daardie polisse het Klein-Gert se hospitaal-rekeninge betaal en gesorg dat hy vir die res van sy lewe goed daaraan toe sou wees.)
"Maar wat kan ons doen, Boetie?" het Ta' San versigtig gevra.
"Ons vra vir Groot-Saar, Ma. Daar's dalk iemand anderkant die spoor wat kan doen met 'n paar rand. As hulle wil."
Ta' San het amper flou geword. Groot-Saar ook, toe sy dié storie hoor.
"Is Meneer seker?" het sy verbaas gevra.
"Dis goed, meneer Klein-Gert."
"Weet jy van iemand?" Klein-Gert wou die saak dadelik uitsorteer.
"Dit hang af of Meneer Klein-Gert 'n jongetjie of 'n girl wil hê," het Groot-Saar verbouereerd geraak.
"'n Girl is orraait," het Klein-Gert gesê. "Solank sy so bietjie met die stoel sal kan help."
"My Klein-Saar, Meneer," het Groot-Saar gesê. "Sy't mos Matriek gedoen, maar werk is maar skaars , Meneer. En sy's nogal sterk vir haar size."
Klein-Gert het so skewerig na Groot-Saar gekyk. "Is sy soos haar Ma?"
"Wel, Meneer..." en toe bloos Groot-Saar so half-en-half. "Hoe bedoel Meneer Klein-Gert dan nou?"
"Ek meen, ken sy die Here? En het sy 'n goeie hart?"
"Hom hart is reg, Meneer," het Groot-Saar geblom. "En sy's mos ons jongeliede se voorslag!"
"Nou laat sy kom," sê Klein-Gert.
En so het een van die mees besonderse vriendskappe in ons dorp se geskiedenis toe begin. Aan die begin het almal gewonder, maar spoedig was hulle 'n algemene–en baie welkome–gesig in die strate. Gewoonlik het Klein-Saar net saamgeloop, want Klein-Gert het verseg om gestoot te word. "My arms het exercise nodig," het hy altyd gesê. Klein-Saar het net gehelp as die dorpsraad weer begin strate opgrawe het, en na die groot reën, toe Klein-Gert in die modder vasgesit het.
By die huis het Klein-Saar vir hom huisgehou, gesorg dat hy genoeg eet, en soms sy gewigte nadergesleep. Rolstoel of te nie, Klein-Gert het met oorgawe geoefen: Gewigte en allerhande goeters om hom in shape te hou. En al was dit 'n uitgemaakte saak dat hy nooit weer sou loop nie, het hy volgehou met die oefeninge wat hy in die hospitaal geleer het. "Mens weet nooit," het hy eenmaal gesê. "En in elke geval, ek gaan nie hier sit met sulke pap beentjies nie."
Klein-Saar se toekoms het swaar op Klein-Gert gelê. Sy't Matriek met onderskeiding deurgekom, en eintlik was sy 'n kandidaat vir die Universiteit, maar sy was bang daarvoor. Geld was daar ook nie, en sy het geweier om Klein-Gert se charity te aanvaar, maar hy't haar uitoorlê: Kom Januarie, toe kry Klein-Saar twee verhogings.... Een vir "lewenskoste" en een vir "indiensopleiding", wat op haar studie-rekeninge sou inbetaal word.
Klein-Saar had geen ander keuse as om by UNISA in te skryf nie. En om haar vrese vir die studiewerk te besweer het Klein-Gert ook ingeskryf, nogal vir B.Sc. "Ons kan saam leer," het hy gesê. "Jy kan dalk help waar ek sukkel." Nie dat hy hulp nodig gehad het nie: Die feit dat hy Matriek deurgeskuur het, het niks met Klein-Gert se brein te doen gehad nie; eerder met sy na-uurse bedrywighede. Maar die nuwe Klein-Gert was enige dosent se droom.
Natuurlik was daar gou-gou stories in omloop. Party mense het gewonder en aangegaan met hulle lewens, maar ander het geraamtes gemaak waar daar niks was nie. Einde ten laaste het die man van die Party kom kuier. Hy's gou daar weg, en spoedig was Ta' San se gemeenskapsaktiwiteite in gevaar. Toe gaan kuier Klein-Gert vir die Party se man, alleen, sonder Klein-Saar, en twee weke later word Ta' San sommer verkies tot die Vrouebestuur.
Ek het baie gewonder oor al dié dinge. In sy vorige lewe, voor die ongeluk, sou Klein-Gert nie eers met Klein-Saar gepraat het nie, en nou was hulle beste vriende. Wie weet, in 'n ander lewe, 'n ander tyd, kon baie dinge dalk gebeur het.
Gelukkig het Klein-Gert en Klein-Saar hulle nie aan al die stories gesteur nie, maar hart en siel in hul studies ingeklim. Klein-Gert het die eerste jaar die beste punte behaal. Die tweede jaar het Klein-Saar stof in sy oë geskop, en Klein-Gert het haar beloon met 'n klein diamant-hangertjie. "Kersfees-bonus," het hy gebrom toe sy iets wou sê.
Teen eksamentyd van die derde jaar was hulle kop aan kop .
Daardie vreeslike dag laat in September het Ta' San en Groot-Saar vroeg-vroeg padgevat stad toe vir hulle kwartaallikse shopping spree. Hulle wou "die kinders" saamvat, maar dié twee was in die kloue van eksamenangs. "Liewer nie, Ma," het Klein-Gert verskoning gemaak. " Ons moet leer. Bring net baie tjoklits en Coke saam."
Goeie ma wat sy was het Ta' San 'n nota gemaak, en saam met Groot-Saar is die ekspedisie met militêre presisie beplan. So skraps voor sonop, presies volgens beplanning, is hulle daar weg.
Klein-Gert het gewone tyd opgestaan, in sy klere ingeworstel, Klein-Saar se ontbyt verslind, en sy boeke gegryp. Klein-Saar het skottelgoed gewas en haar boeke gegryp. Vir 'n paar uur was dit maar baie stil. Behalwe dat altwee wou goed doen in die eksamens wou altwee die ander een 'n ding of twee wys.
So teen twaalfuur is Klein-Gert kamer toe om vir 'n paar minute te gaan lê en bene oefen. Klein-Saar het tot by die einde van 'n hoofstuk gewerk, lekker uitgerek, en kombuis toe gestap.
Die agterdeur het sy vroegoggend gesluit, want die stad se onrus was aan't oorspoel na ons geweste toe, maar toe sy in die kombuis instap was die deur oop. Sy't vasgesteek en begin omdraai om Klein-Gert te gaan roep, toe 'n arm haar met geweld om die middel beetkry. Van die ander kant af het 'n hand soos 'n staalklamp om haar mond geslaan.
"Shut up en bly leef!" het 'n stem beveel.
Klein-Saar was vir 'n oomblik half verdwaas en toe begin sy stoei. Soos Groot-Saar gesê het, sy was nogal sterk vir haar size, en dit het amper gelyk of sy dalk kan wen, maar haar aanvaller was groot, sterk en uiters belustig. Klein-Saar het so half uit sy greep gewurm, maar toe slaan hy haar met die vuis. Bo-oor die tafel tot in die hoek. Sy't probeer wegkom, maar die bloed was in haar oë en sy was bykans flou van die geweldige hou.
Hy't haar met een hand opgetel en in die lug gehou. "Ek like tierkatte," het hy gegrinnik en haar weer geslaan. Tot teen die wasbak. Vroeg-oggend se winddroë skottelgoed het deur die lug gevlieg, geval, gebreek, geraas.
In sy kamer het Klein-Gert die slag gehoor. Hy't homself in sy stoel gehelp en kombuis toe gerol. Pleks dat hy eerder geroep het, maar hy't 'n geroepery (vir watter rede ookal) verpes. In sy vorige lewe sou hy waarskynlik 'n wapen by hom gehad het, maar die nuwe Klein-Gert het nie daaraan gedink nie.
Toe Klein-Gert in die kombuis inkom, het Klein-Saar se bebloede kop so dwars van die tafel afgehang. Haar aanvaller was besig om haar langbroek af te ruk.
"Hei!" het Klein-Gert gebrul en sy stoel vorentoe geskiet. "Wat doen jy?"
Die aanvaller het verras omgespring, maar toe hy die rolstoel sien het hy gegrynslag. "Oh, the preacher!" het hy gesnou. "The lame preacher!"
Hy't om die tafel gespring, Klein-Gert uit sy stoel gepluk, en hom met een hou tot in die hoek geslaan.
"Kyk mooi, Preacher," het hy beveel. "Ek wed jy kan dit nie meer doen nie!"
Klein-Saar was teen dié tyd amper by die deur uit, maar hy't haar skaapgevang en nadergesleep. Sy't probeer skree, toe gaan sit hy op haar en slaan haar weer. En toe sien hy die diamant-hangertjie om haar nek.
"O so!" het hy gebrul. "Hoer en rumoer met die baas, nou's haar eie mense nie goed genoeg nie!" Hy't die hangertjie afgeruk en met een haal tot by Klein-Gert in die hoek gegooi. "Tyd dat jy bietjie education kry!"
Agter in die hoek het Klein-Gert homself regop getrek en sy oë probeer fokus.
Klein-Saar se aanvaller het haar laaste klere afgeruk, opgestaan en homself begin ontklee. Klein-Saar wou probeer wegkom, toe skop hy haar. "Waar gaan jy heen?" het hy gelag. "Dis nou ek en jy."
Hy't voor haar gepronk. "Have a look, girl. Just for you." Klein-Saar het floutjies probeer keer, en soos 'n klein hondjie gekerm. "O God, help my!" het sy geskree, en toe tref die vuis haar weer.
Agter in die hoek het Klein-Gert soos 'n verwoede bul gebrul, en toe staan hy op. Hoe hy dit reggekry het sou niemand later kon sê nie, maar op sy laslappie-bene het hy vyf treë gestrompel tot waar Klein-Saar haar vir oulaas probeer teensit het.
Die aanvaller het Klein-Gert se brul gehoor, ook die geskuifel, maar hy't effens stadig reageer. Toe hy besef wat aan't gebeur was en probeer orent kom en omswaai, was dit te laat. Klein-Gert se twee groot hande was klaar om sy keel.
Die twee het omgeval, maar Klein-Gert het gehou. Die aanvaller het op Klein-Gert se flenterbene beland, en hy't geskree asof al die duiwels uit die hel op hom is, maar hy't gehou. Van iewers het die man 'n mes te voorskyn gebring en woes begin steek, maar Klein-Gert het gehou. Sy armspiere het soos staalkabels gebult, die sweet en bloed het so deurmekaar oor sy gesig gestroom, maar Klein-Gert het gehou, selfs toe die aanvaller nie meer beweeg het nie.
Eers toe Klein-Saar aan hom skud en deur stukkende lippe sy naam fluister, het Klein-Gert laat los. Vir 'n oomblik het hy regop bly sit, en toe stadig omgeval teen haar.
"Ek is lief vir jou, Klein-Saar," het hy gefluister en effens geglimlag voordat sy oë vir oulaas toegegaan het.
Toe Ta' San en Groot-Saar ure later daar aankom, het sy nog so verwese voor haar sit en uitstaar terwyl sy Klein-Gert se lewelose kop teen haar bors druk. Hulle het haar vingers losgemaak, en haar opgehelp en weggelei kamer toe. In die deur het sy gaan staan en omgekyk.
"Hy't dit vir my gedoen, Ma. Vir my." En toe begin sy huil.
Klein-Gert se begrafnis het die dorp tot stilstand gebring. Ten spyte van al die politieke verdeeldheid was wit en bruin en swart vir een dag saam in hul smart, veral toe dit uitkom dat die aanvaller maar net 'n common criminal was wat niks met die struggle te doen gehad het nie.
Dominee was reg om die sinode aan te vat as hulle helfte van Klein-Gert se vriende by sy begrafnis wou verbied het, maar Ta' San het besluit die begrafnis sou uit die Sendingkerk wees. Al die blink motors het stofpad gery lokasie toe, en ryk en arm het saam die nederige bankies volgepak. Die kinders het die paadjies volgesit. En Dominee en Eerwaarde Solomons het vir die eerste keer saam 'n diens aangebied. 'n Aangrypende diens, soos oom Chris van die stasie agterna gesê het. Selfs 'n uitnodiging gemaak waarop 'n paar mense reageer het.
Ta' San, Groot-Saar en Klein-Saar het saam agter die kis geloop op pad graf toe. Hulle oë was maar rooi, en die tissues het oortyd gewerk, maar hulle koppe was regop. Klein-Saar het die herstelde hangertjie om haar nek gehad, en die diamantjie het ekstra-blink geskitter in die oggendson. Amper soos haar oë.
Eerwaarde Solomons het 'n paar woorde gespreek, en Dominee het die begrafnis-formule spesiaal aangepas vir Klein-Gert. Nie 'n droë oog om daardie graf nie, hoor–selfs oom Sarel Kromsteel het kamma gehoes en sy neus luidrugtig geblaas. En toe hy sy handvol sand op die kis gooi, het sy onderlip gebewe. Hy't agterna gestry, maar almal het gesien.
Klein-Saar het nie sand of blomblaartjies gegooi nie. Sy't net een langsteel spierwit varkoor op sy kis laat val. "Mooi loop, Klein-Gert," het sy gefluister. "See you someday."
Ta' San het 'n mooi grafsteen vir Klein-Gert laat opsit. Eenvoudig, met net sy naam, sy datums, en een teksvers daarop. Sy't lank gewik en geweeg of sy die woorde ook moet bysit, maar uiteindelik is die teks alleen uitgebeitel: "1 Korinthiërs 11 vers 1".
Jare daarna het mense nog gewonder, huistoe gegaan, en die teks opgesoek. En vir oulaas het Klein-Gert, as't ware uit die dood uit, steeds gepreek: "Volg my na, soos ek Christus navolg."
© 2003 Flip van der Merwe. All rights reserved. This story may not be reproduced, stored or distributed, in part or in whole, in any manner whatsoever, without the express written permission of the author, or his legally contracted agent(s). For more information, write to info@ccm.co.za.